Paaie en hul dinge

Daar is iets omtrent die karre se rooi en geel ligte op die donker N1 waarop ek nie heeltemal my vinger kan oplê nie: dit hou nooit op nie, almal is altyd haastig op pad iewers heen en dit voel gewoonlik of jy stilstaan in die stroom verkeer terwyl jy maar net die liggies bewonder.

Dis vreemd hoe sulke aande dan ook geneig is om ‘n mens vreeslik optimisties te maak. Veral wanneer die son nog nie heeltemal agter die berge in die weste in gesak het nie en jy dan maar so af en toe staar na die oranje-rooi skynsel ver op die horison. Dis ook maar net tot jy die volgende tolhek kry wat soos ‘n opgeblokte tregter lyk en jy wéér na jou beursie moet soek dat hierdie rooskleurigheid wat jy sopas gehad het sommer saam met die son agter daai berg wegsak. Mens sou dink dat baie meer mense mos die rustiger R101 tussen Pretoria en Naboomspruit sal gebruik om die eentonige verkeer uit te skakel of om dalk daardie ekstra R100 se tolgeld te spaar. Maar op die R101 weet jy nooit wat om te verwag nie en daar is ook nie tyd om na die son wat agter die berge insak te loer nie want anders ry jy dalk net in ‘n ou hoogoorlaaide mazdabakkie sonder agterligte vas. Van daai’s waarvan die dif dan gewoonlik net-net die deurpad mis en die neus van die bakkie so hoog oplig dat dit lyk of die bakkie eintlik skeef loop. Sulke bakkies interesseer my ook vreeslik. Waar kom hulle vandaan? Waarheen is hulle oppad? Is alles wat hierdie mense besit en nodig het op daardie bakkie gepak?

Jy sal ook nooit weet of kan raai wat alles op hierdie bakkies gepak word nie want sien, die hoogste gedeelte van sulke bakkies se vrag is mos gewoonlik met een of meer seile toegedraai. Bokant die seile sal dan goeters wees soos: fietse, hoenderhokke, sinkplate, stoele, emmers, mandjies. Jy probeer ook dan gewoonlik om eerder so ‘n veilige afstand van hierdie oorlaaide bakkie te hou vir wanneer daar dalk net iets kan afskuif en voor jou inval. Ek het nog altyd gedink dat om so te sit en staar na hierdie bakkies ‘n geval van hipnose kan wees. Jy sit skielik so aan klomp goeters en dink dat jy skoon vergeet jy bestuur of ry nou al teen 50 km/u nie. Nou moet jy net hierdie ding verbysteek want jy sit nou al vir die afgelope tien minute jou en verwonder aan hierdie ‘kunswerk’ op wiele. Maar soos dit die R101 se lot is, sal jy so ‘n rukkie langer agter hierdie bakkie se rookwolke moet aanry. Noudat jy wel besluit het om verby te gaan kom al wat ‘n lorrie en kar wat wel die N1 se tolhekke onduik mos van voor af.

Net wanneer die pad nou skoon lyk en jy nou dink jy ‘n kans het om verby te steek maak die pad dan ‘n draai óf ‘n bult. Dan moet jy nou maar ‘n rukkie langer agter hierdie bakkie sit. So ja, hier is nou ‘n kans en jy steek verby. Dit was ook nie nodig om jou kar in ‘n laer rat in te druk nie want jy het al die pad in derderat agter hierdie bakkie aan geploeter. Nou sit jy weer met ‘n ander probleem. Want sien bakkies wat nie agterligte het nie het gewoonlik een dowwe lig en een skerp lig wat gelyk skyn. Die hoë neus van die bakkie sorg ook dat daardie een skerp lig vir nog so kilometer verder die hele binnekant van jou kar verlig.

Daar is nou tog iets omtrent die karre van die N1 waarop ek wel my vinger kan oplê: elkeen het sy eie baan en jy kan gelukkig kies waar jy wil ry.

Posted in Uncategorized | 2 Kommentaar

Skoolhelde en verlate velde

Daar is seker heelwat ander goed om oor te sit en skryf as om heeltyd in jou verlede rond te krap en met ander te deel presies wáár en hoé jy grootgeword het. Vir my is dit net eenvoudig: skryf oor wat jy ken en weet of al self beleef het. Dis waarom ek nie sommer oor die politiek en ekonomie of inflasie en belasting sal skryf nie. Dis net veel lekkerder om so ‘n plattelandse storie te vleg.

In die tagtiger jare tot vroeë negintigs het Sterkrivier met heelwat groot twakboere gespog. Die tabakoonde het by van die boere se plase sulke lang rye gestaan, vol tabak. Jy’t gereeld steenkoollorries sien ry van een plaas na ‘n ander wanneer dit tyd is om te droog. Wanneer jy die tabakoond se groot staaldeur oop maak dan hang die tabak gewoonlik soos lang biltongskywe van die oonde se rakke af. Die heerlikste tabakreuk wat uit daardie oond uitkom maak jou gewoonlik ook sommer lam in die bene wanneer jy dit diep in asem.  My pa het altyd Rembrandt Van Rijn gerook, daardie sigarette in die geel boksie met ou Rembrandt se gesig op. Maar daai tabakoonde het veel lekkerder geruik.

So het al wat ‘n beesboer en tabakboer is by die plaaslike skooltjie: Laerskool Sterkrivier, saamgetrek wanneer daar nou ‘n sportbyeenkoms was. Die klein pawiljoen wat aan die oostekant van die veld was, was altyd vol mense gepak. Daar was tente met gasstofies langs die veld opgeslaan waar jy jaffels en pannekoek, worsbroodjies en koeldrank óf vetkoek kon koop. Al wat ‘n boer is het dan met ‘n worsbroodjie in die hand op en af langs die rugbyveld wat se gras maar altyd so vaal-bruin was geloop en kommentaar lewer. Teen rustyd as die manne van die veld afstap het almal sulke bruinrooi-bebloede knieë en elmboë gehad soos wat hulle mekaar al op daardie droeë veld geduik het. Na rustyd durf hulle almal maar weer die droeë veld en rooigrond aan om vir oulaas te kyk om dalk die wedstryd in hulle guns te swaai.

Naas die sport was daar ook gereeld iets by die skool aangebied en die NG kerk het selfs al hulle bazaar daar gehou. Die skoolsaal het ook al ‘n hele paar oujaarsdanse onthaal en ook belangrike vergaderings. Maar in die vroeë negentigs het dinge egter so ‘n bietjie verander. Laerskool Sterkrivier moes toemaak. Die ou skooltjie het vir lank leeggestaan voordat hy weer vir die plaaslike bevolking ingerig is. Vandag ry jy daar verby met ‘n knop in jou keel. Die skooltjie soos hy vandag steeds daar staan se ruite is uitgebreek, die deure afgebreek, alles is nou verwoes en verlate. Die ou pawiljoen aan die oostekant van die veld wat eens vol toeskouers was, staan nou leeg, die vensters lankal uitgegooi en die mure bekrap. Die rugbypale is bokant die dwarslat afgesaag om nou vir ‘n sokkerdoel te dien. En langs die veld, waar eens tente met gasstofies gestaan het en mense wat op en af gehardloop het, is nou niks. Net hoë gras en dorings. Waar eens skoolhelde was, lê nou net verlate velde.

Posted in Uncategorized | Tagged , , , , , | 6 Kommentaar

Vleiswerk en koeltebome.

Ek was nog nooit regtig een vir jag nie en het maar altyd myself uitgewurm op ‘n manier wanneer mense my mos nooi om saam te gaan skiet. Nooit omdat ek die veld of die middernagtelike koue wou vermei nie maar bloot die feit omdat ek nie daarvan hou om te sien hoe diere doodgeskiet word nie. Die afslag sal ek nog mee help… en veral die biltongsny.

Kyk, dis mos altyd ‘n helse storie wanneer daar op die plaas geslag moet word. Veral wanneer daar bees geslag word. Pa slyp eers weer vir oulaas die messe en Ma kry al wat ‘n skottel is reg. Oom Harry het ook al die vorige dag die koelkamer skoongemaak en aangesit sodat die kas lekker koud is wanneer die vleis nou-nou daar aankom.  Wanneer als nou lyk of dit onder beheer is en elkeen weet wat sy werk is word daar dan na die kraal gestap. Iemand kom gewoonlik met die bakkie agterna want die bees moet nou-nou daarop gelaai word. By die kraal haal Pa dan die .22 oor, dan is dit gewoonlik hier waar ék wegkyk. Sodra die skoot klap sal ek eers weer om kyk. Dan is hulle reeds besig om die keel oop te sny en die murg af te steek. Daarna word die bees met ‘n driepoot op die bakkie gelaai tot ‘n ent van die huis af. Dan, sommer daar eenkant onder ‘n groot seringboom wat lekker koelte gooi, word die bees afgeslag. Ek kan onthou dat my oupa-hulle ook altyd onder ‘n hoë boom gestaan en slag het op sy plaas buite Northam.

Onder die seringboom word die bees nou afgeslag voordat hy ‘n rukkie moet hang. “Esther, loop pluk daar ‘n seringtak en kom waai die vlieë”, sal my pa sê wanneer Esther nou die dag daar is om te help slag. Ons moes ook al self staan en vlieë waai met daai takkie. Gewoonlik het ons ook dan aan die stry geraak oor wie se beurt dit volgende is. Wanneer die bees nou klaar ‘n rukkie gehang het en in kwarte opgesaag is word dit na Oom Harry se koelkamer vervoer. Daar hang hy nou so agt dae voordat die vleis bewerk word. Pa-hulle glo dat die vlies eers ryp moet word.

Wanneer die agt dae nou verby is word daar vroeg die oggend al geroer om die bees te bewerk. Dan word die messe weer geslyp, skottels en plastiekbaddens word ingepak en natuurlik ook die spesiale kruiemengsel vir die wors wat my pa destyds in ‘n Landbou weekblad gekry het. Ek sorg net altyd dat die droeëworskruie gewoonlik eerste in is. Die biltong bly maar nog eenvoudig: Growwesout, witpeper en bruinasyn. My pa glo nie aan iets anders nie. So ja, nou kan ons gaan vleis werk. Soms word daar drie beeste geslag dan kom die familie gewoonlik kuier vir paar dae om te help. Dan word daar vir elkeen vleis gegee en ook sommer heerlik gekuier so deur die vleiswerkery deur. So by middagete word daar gewoonlik al ‘n steak gebraai of die wors word al geproe. “Dit proe nie soos verlede jaar s’n nie. Hie kort nog iets”, sal my pa dan gewoonlik sê. Dis ook dan wanneer die eerste bier oopgemaak word want die grootste werk is dan al amper verby. Teen die aand word daar sommer weer gebraai of potjie gemaak want dan is alles klaar verpak en terug in die koelkas.

Posted in Uncategorized | Tagged , , | Lewer kommentaar

Grepies uit die platteland

Dis snaaks hoe sulke goed by mens bly wanneer jy op die platteland grootword: Busry en Kontantwinkels, ‘n ou-poskantoor en ‘n NG kerk.

Soggens is dit 5:15 opstaan en regmaak om die bus 6:10 by die kruispad te kry. Jy wil nie hê oom Piet moet vir jou wegry nie anders as jy gelukkig is haal jy hom sommer maklik eers weer so twee of drie bustoppe verder in. Dan is jou sitplek op die bus klaar ingeneem en moet jy maar beknop langs iemand anders inskuif tot jy in die dorp is. Jy’t nou maar nie altyd hardop gekla nie want nes op skool kry jy op ‘n plattelandsebus ook maar die Camel Filter-rokers waarteen jy nie waag om op te staan nie. Smiddae wanneer die skool uitkom stap jy dadelik na die skoolhekkie waar oom Piet jou vanoggend afgelaai het en daar wag jy.

Die middag oppad huistoe slaap jy darem lekker in die bus veral wanneer hy die dag leeg is en jy eerste die lang agtersitplek gedeps het. Of wanneer jy nou nie slaap nie, lê jy half op jou rug met jou knieë teen die voorste sitplek en staar dan so by die ruit uit tot jy by jou bustop kom waar pa dan soms met die Willys Jeep gewag het.

Daar is nou net een Kontantwinkel op Sterkrivier wat nog al die jare oop is, oom Danie se winkel. Die een by Koelemansrus is nou omskep in ‘n waterfabriek, oom Schalk wat nou al oorlede is se winkel is nou die dag gesloop en die deure van Hansie se Kontantwinkel is ook lankal toe. In oom Danie se winkel kry jy iets van alles: vistokke, fietse, patches, skoene, lekkergoed, twak, hondekos en selfs hierdie silwer bokstradios. Oom Danie is heelwat groot en dra nog al die jare ‘n kakiehemp met ‘n kakiebroek. Dan het hy sulke groterige bril wat hy kort-kort met sy wysvinger opstoot wanneer dit nou te ver met sy neus afgeskyf het. Jy sien hom nie baie op sy voete nie want hy sit maar altyd agter die toonbank op ‘n stoel. Gewoonlik met iets om te eet of te drink. Wanneer jy nou instap en iets wil koop sal hy dan gewoonlik vir Maria roep, vir haar in Sotho sê wat jy wil hê, dan verder gesels. Buite in ‘n halwe sementdam het daar ook altyd swartes gesit en kudubier drink, vandag sit hulle in daardie selfde dam maar drink Black Label. Hulle wil ook gewoonlik eers ietsie kom vertel wanneer hulle jou sien: Baasi, jy ken my nog? Ek het lankal trig saam jou pa gewerk. Nou, ek sukkel. Eish, hy’s drôg. Die son hy brand als dôd, die reën hy moet nou kom.

Die ou-poskantoor is net Dinsdae en Donderdae oop. Dan sal jy weer vir tannie Sienie steeds ná al die jare op haar twee-daagliksepos agter die toonbank kry. Sy sal ook altyd glimlag wanneer jy daar instap. Dan na ‘n groot houtrak agter teen die muur stap en jou pos uit jou hokkie haal sodat wanneer jy by die toonbank kom sy dit dadelik vir jou kan gee. Sy weet jy’s haastig. Maar soms was daar al ure by daardie poskantoor gesels wanneer twee of meer boere mekaar daar raakloop. Die geselskap begin en eindig gewoonlik ook nie met dieselfde mense nie.

Langs die poskantoor is die NG Kerk. My ma-hulle gaan elke jaar om die basaar te ondersteun en help graag waar hulle kan. Maar wanneer my pa kerk toe gaan, ry hy dorp toe. Hy’s ‘n gebore Hervormer. Ons kinders het al alles probeer om net bietjie laat te lê op ‘n Sondag en dan sommer na die NG kerk toe te gaan. Die boodskap is mos dieselfde en Ds. Opperman kom al die pad van die dorp af, dis nie nodig ons soontoe ry nie. Maar niks het gehelp nie en ons moes elke Sondag dorp toe vir kerk.

Posted in Uncategorized | 7 Kommentaar

Ryloop

Ek het nie ‘n probleem met rylopers nie. Om die waarheid te sê dis niemand se eerste keuse om die pad te voet aan te pak nie. Ek het nou al twee keer rylopers opgetel. Die eerstekeer was net buite Carletonville, daar by die Ventersdorp afdraai – daai pad wat nóú nog nie reggemaak is nie – en die tweedekeer was oppad na Fochville.

Dié dag, net toe ek by die vierrigtingstop naby die 007 winkelsentrum kom, sien ek aan die oorkant van die pad naby ‘n koelteboom, daar waar die bakkie met groenmielies altyd staan, twee mans. Die een sit half moedeloos op ‘n groot rugsak en die ander een, ‘n witkopman, hou die al wat ‘n motorist is wat by die stopstraat stilhou stip dop. Ek merk ook toe sommer dadelik op dat ek geteiken word as ‘n potensiële kandidaat om rylopers op te tel. Ek gee so droeë sluk en probeer hom eers vermei. Die man steek sy duim in die lug. Hy kyk my in my oë. ‘n Duisend goeters maal deur my gedagtes en ek begin ietwat skuldig te voel. Ek trap die Micra se rem, swaai van die pad af en hou op die gruis ‘n entjie anderkant die witkopman stil. My oë vlieg vinnig deur my kar om seker te maak daar lê nie iets kleins rond wat dalk maklik in ‘n hemp- of broeksak sal pas nie. Die witkopman wat nou al naderstap lyk vir my effens ouer as die ander een wat ook nou al opgestaan het en sommer klaar met die rugsak stadig naderkom. Ek draai die passasierskant se ruit af en die man leuen nader en groet beleefd. “Goeimiddag meneer, ons is oppad na Fochville. Ons voete is al blase geloop”, sê die hy verleë. Die man se klere is verwaarloos, oud en dae laas gewas. En ek kon ook nie help om te dink wanneer laas hulle ‘n behhorloike bord kos gehad het nie. Daarom het ek toe, bewus van al die gevaar rondom rylopers tog besluit om hulle te help.

Die twee mans maak hulle gou gemaklik in my kar. Die witkopman sit voor. “Ons gaan kyk vir ‘n job in Fochville. Ons kom van Lichtenburg af maar het darem al voorheen in Fochville gewerk, miskien kan die ou weer vir my ‘n job organize”, begin die hy vertel. Sulke mense het mos altyd die vreemdste lewensverhale wat hulle sommer gou met jou begin deel.  Dis ook mos vreemd hoe mense altyd dink dat ‘n oplossing van ‘n probleem in ‘n ander dorp sal lê wanneer dinge in een dorp nie uitwerk nie. Gelukkig lê Fochville nie ver nie.  “Ons het vandag sopnat gereën in Welverdiend, voordat ons ‘n lift Carletonville toe kon kry”, gesels die man verder.  Die ou met die rugsak gesels nie. Hy sit woordeloos op die agtersitplek en hou die sak op sy skoot styf vas asof dit hul enigste bron van lewe is. Seker maar diep in gedagte met die Kurt Darren CD wat in my kar speel dink ek. 

Naby Fochville laat weet ek hulle dat my afdraai nou nie meer ver is nie maar dat ek hulle tot hier by die vierrigtingstop wat na Fochville draai sal aflaai. Voor ek stilhou begin die man se stem meer ernstig raak en besef ek hy soek meer as net ‘n lift. “Ek wil jou nou nóg ‘n groot guns vra. Het jy nie dalk so R10 vir ‘n pakkie slaptjips nie asseblief?” Nou kyk, slaptjips bly mos lekker, is bekostigbaar en het reeds die stapelvoedsel van enige persoon op straat geword. En wat is nou lekkerder as om te staan en kyk hoe jou warm slaptjips in papier toegedraai word en jy jou lus nie meer kan hou nie.  So ek het nie ‘n probleem gehad dat hulle geld wou hê vir R10 se slaptjips nie want ‘n droeë brood kos dieselfde.

Die resessie tref ons almal maar. Rylopers ook. As ek maar net kontant by my gehad het…

Posted in Uncategorized | 6 Kommentaar

Ouma se sakdoek

Ek onthou nog hoe ek en my nefies die ousies op die plaas met enige lewende organisme wat ons in die hande kon kry op die plaaswerf rondgejaag het. Dis mos vreeslik snaaks om ‘n duisendpoot op iemand wat loop en blare bymekaar hark te gooi. Dan het my ouma, wat voor die agterdeur onder ‘n groot Rooibosboom gesit het, probeer om ons kort-kort met haar kierie by te kom wanneer ons binne reikafstand is.

Wanneer die onverwagse nou wel gebeur en sy ons nadersleep met daai kierie, is dit glad nie meer sports nie. Dan spartel jy om daar los te kom en wanneer jy wel wegbreek uit daardie kierie-kloue hardloop jy verwoed weg. Skop ook sommer ‘n hopie opgeharkte blare in die verbygaan uitmekaar net om jou ontsteldheid te toon. Maar nou moet jy hol want al wat ‘n ousie is kom vir jou en ouma beduie hoog met haar kierie dat pa vanaand hiervan gaan hoor. Maar ons het ons nie altyd aan ouma gesteur nie.

Ons was bitter klein en het nie altyd agtergekom hoe lelik ons met haar was nie. Tog het sy altyd vir lekkergoed gesorg. Sulke harde plat lekkergoed met verskillende woordjies op. Dit was altyd in ‘n sakdoekie toegedraai. Sy het dit dan in haar hand op die tafel stukkend geslaan om te deel as ons kon uithou om ‘n dag lank soet te wees. Ons het ook goed geweet wanneer sy ons nader roep en haar hand in haar voorskoot druk dat ons nou iets reggedoen het. Ouma het daardie lekkergoed altyd saam met ‘n klompie Wilson-toffies in haar voorskoot se sak gedra. 

Die tyd wat ons op die plaas gebly het, het gou aangestap. Ek kon nie regtig presies onthou hoe oud was ek toe ons van die plaas af getrek het nie. Ek skat so vyf. Ons was ook nie baie lank in die nuwe huis toe ouma na Pietersburg hospitaal toe moes gaan nie. Die gesondheid het maar vinnig agteruit gegaan. So het ons eendag by my ouma waar sy in die hospitaal met suurstof en drup lê gaan kuier. Die wit sale en wit gange van die hospitaal het my klaar ongemaklik en bang laat voel. Die gladde blinkgepoleerde vloere was wel fasinerend wanneer jy so oor dit stap en die bal van jou voet effens draai wanneer jy op die vloer trap. “Sjoes” word daar dan altyd gesê wanneer ons kinders altyd iets op die onvanpaste oomblikke sal doen.

Nou ja, ek was wel klein maar het geweet dis glad nie lekker om my ouma daar in een van die witkamers te sien lê nie en die hospitaalreuk het my benoud gemaak. My niggie het ons kinders later na een van die portale geneem waar ons nou gewag het vir my tannie. Ons moet saam haar terug ry. Die grootmense het nog vir lank weggebly voor hulle later uit Ouma se kamer gekom het.

Later daai dag, oppad huistoe, was daar goeters in my tannie se ligblou Mazda 323 gepraat wat ek nie heeltemal kan onthou nie. Ek weet net my tannie se oë was heeltyd tranerig en sy’t soms gesukkel om te praat. Toe ons by die huis kom en besig is om uit te pak, lui die foon. Dis die hospitaal, Ouma is oorlede. Klein en was dalk nie heeltemal seker hoe om uiting aan emosies te gee nie maar een ding het ek verseker geweet: vir Ouma sien ons nie weer nie. Ek stap kar toe en haal nog so paar goeters uit onder andere ‘n hopie klere. Ek neem die klere in ‘n bondel onder my een arm en stap die huis binne. Nes dit ‘n kind betaam gooi ek alles net so op die kombuistafel neer. Iets vang my oog wat uit die bondelklere op die grond neer val. Ek stap nader en tel dit op. In my hand hou ek ‘n toegeknoopte sakdoekie vas met sulke harde plat lekkergoed in.

Posted in Uncategorized | Tagged , , , | 10 Kommentaar