Daar is iets omtrent die karre se rooi en geel ligte op die donker N1 waarop ek nie heeltemal my vinger kan oplê nie: dit hou nooit op nie, almal is altyd haastig op pad iewers heen en dit voel gewoonlik of jy stilstaan in die stroom verkeer terwyl jy maar net die liggies bewonder.
Dis vreemd hoe sulke aande dan ook geneig is om ‘n mens vreeslik optimisties te maak. Veral wanneer die son nog nie heeltemal agter die berge in die weste in gesak het nie en jy dan maar so af en toe staar na die oranje-rooi skynsel ver op die horison. Dis ook maar net tot jy die volgende tolhek kry wat soos ‘n opgeblokte tregter lyk en jy wéér na jou beursie moet soek dat hierdie rooskleurigheid wat jy sopas gehad het sommer saam met die son agter daai berg wegsak. Mens sou dink dat baie meer mense mos die rustiger R101 tussen Pretoria en Naboomspruit sal gebruik om die eentonige verkeer uit te skakel of om dalk daardie ekstra R100 se tolgeld te spaar. Maar op die R101 weet jy nooit wat om te verwag nie en daar is ook nie tyd om na die son wat agter die berge insak te loer nie want anders ry jy dalk net in ‘n ou hoogoorlaaide mazdabakkie sonder agterligte vas. Van daai’s waarvan die dif dan gewoonlik net-net die deurpad mis en die neus van die bakkie so hoog oplig dat dit lyk of die bakkie eintlik skeef loop. Sulke bakkies interesseer my ook vreeslik. Waar kom hulle vandaan? Waarheen is hulle oppad? Is alles wat hierdie mense besit en nodig het op daardie bakkie gepak?
Jy sal ook nooit weet of kan raai wat alles op hierdie bakkies gepak word nie want sien, die hoogste gedeelte van sulke bakkies se vrag is mos gewoonlik met een of meer seile toegedraai. Bokant die seile sal dan goeters wees soos: fietse, hoenderhokke, sinkplate, stoele, emmers, mandjies. Jy probeer ook dan gewoonlik om eerder so ‘n veilige afstand van hierdie oorlaaide bakkie te hou vir wanneer daar dalk net iets kan afskuif en voor jou inval. Ek het nog altyd gedink dat om so te sit en staar na hierdie bakkies ‘n geval van hipnose kan wees. Jy sit skielik so aan klomp goeters en dink dat jy skoon vergeet jy bestuur of ry nou al teen 50 km/u nie. Nou moet jy net hierdie ding verbysteek want jy sit nou al vir die afgelope tien minute jou en verwonder aan hierdie ‘kunswerk’ op wiele. Maar soos dit die R101 se lot is, sal jy so ‘n rukkie langer agter hierdie bakkie se rookwolke moet aanry. Noudat jy wel besluit het om verby te gaan kom al wat ‘n lorrie en kar wat wel die N1 se tolhekke onduik mos van voor af.
Net wanneer die pad nou skoon lyk en jy nou dink jy ‘n kans het om verby te steek maak die pad dan ‘n draai óf ‘n bult. Dan moet jy nou maar ‘n rukkie langer agter hierdie bakkie sit. So ja, hier is nou ‘n kans en jy steek verby. Dit was ook nie nodig om jou kar in ‘n laer rat in te druk nie want jy het al die pad in derderat agter hierdie bakkie aan geploeter. Nou sit jy weer met ‘n ander probleem. Want sien bakkies wat nie agterligte het nie het gewoonlik een dowwe lig en een skerp lig wat gelyk skyn. Die hoë neus van die bakkie sorg ook dat daardie een skerp lig vir nog so kilometer verder die hele binnekant van jou kar verlig.
Daar is nou tog iets omtrent die karre van die N1 waarop ek wel my vinger kan oplê: elkeen het sy eie baan en jy kan gelukkig kies waar jy wil ry.